02/09/2025
SLIMLAPPIES SKITTER BY PRINCE ALBERT LEESFEES 2025
Donderdagaand, 28 Augustus het die Slimlappies Prins Albert Trust hul eerste digbundel bekendgestel by die VGK Saal in Noordeinde. Die digbundel is ‘n versameling van gedigte uit die pen van Slimlappies leerders onder leiding van Maruanda Wynne. Leerders het hul gedigte met selfvertroue voorgelees aan ‘n saal vol gaste, vriende en ouers. Slimlappies fokus daarop om die kinders van Prins Albert te leer lees met begrip in hul moedertaal, Afrikaans. Ons is baie trots op hierdie digters wat die afgelope 4 jaar hul lees- en skryfvaardighede by Slimlappies ontwikkel het!
Vrydagoggend, 29 Augustus het die Slimlappies Prins Albert Trust gesorg vir ‘n oggend van lees, leer en lekkerte vir 500+ Prins Albert Primêre Skool leerders by die VGK Saal, Noordeinde. Beverley McKelly (ATKV George) het ‘n interaktiewe gesprek gelei met Chareldine van der Merwe (Projekbestuurder: Vriende van Afrikaans) oor haar twee boeke “Huisies vir Muisies” en “‘ ‘n Rand vir ‘n Tand”. Christien Neser (bekende Spraakterapeut en jeugverhaal skryfster) se aanbieding oor die geheime wapens van lees het die ouer kinders uitgedaag om minder tyd op skerms te spandeer en meer met ‘n boek in die hand. Beide Chareldine en Christien het ook ruimhartige donasies gemaak van hul boeke aan die skool.
Vrydagmiddag, 29 Augustus het die Slimlappies Prins Albert Trust ‘n VKO Forum Gesprek gefasiliteer by die Slimlappies Sentrum. Dit is die eerste keer dat dat verteenwoordigers van al die VKO’s in Prins Albert, Leeu-Gamka en Klaarstroom saam om ‘n tafel sit en voorskoolse opvoeding in ons distrik bespreek. ‘n Groot dankie aan Gayleen Tobias (Building Blocks, George), Dokka Swart (Doen en Leer) en Chareldine van der Merwe (Vriende van Afrikaans) vir hul waardevolle insette en bydraes. Opvoeders het ook elkeen ‘n geskenkpakkie van boeke van Christien Neser ontvang.
Saterdagoggend, 30 Augustus het die Slimlappies Prins Albert Trust 50 ouers van voorskoolse leerders by PACT ontvang. Dokka Swart (Doen en Leer) en Chareldine van der Merwe (Vriende van Afrikaans) het hul kennis en ervarings met ons ouers gedeel oor “hoe maak ek my kind gereed vir skool”. Ons ouers het aktief deelgeneem aan die gesprekke en huis toe gegaan vol idees en geïnspireerd.